top of page

Onbeskofte kans vir liefde

Writer: Felicia Snyman
Felicia Snyman
Sep 29
0 min read


Tik. Tik. Tik. Die flikkerlig se klank sny deur die stilte in haar motor. Sy ry om die sirkel wat in haar kompleks indraai. Haar hand gaan outomaties na haar mond en sy onderdruk die drang om haar naels te kou. Venicia sug diep toe haar voertuig voor die slagboom by die sekuriteitshek tot stilstand kom. Hierdie dag kan nie nog slegter gaan nie.

‘n Vriendelike gesig loer by die klein gebou uit. “Hallo, Juffrou Swanepoel. Werk die gesig scanner al? Anders probeer die wysvinger.”

Sy glimlag skrams terug. “Ek weet nog nie. Hulle het gesê hulle werk daaraan. Ek gaan probeer.” Sy hou haar gesig effens by die motorvenster uit. Die skerm maak ‘n sirkel wat om en om draai. Dit neem soms ‘n paar minute voordat die biometriese skandeerder werk en vir een of ander rede herken dit nie meer haar gesig nie.

Sy tel haar foon ingedagte op en begin ‘n stemnota vir haar beste vriendin stuur. “Hallo. Ek sit al weer by die hek vas. My dag was aaklig. Ek merk nou nog ‘n onderwyser se matriekvraestelle, want hulle het glo rugby die naweek. Ek het my knie voor al die kinders oopgeval. My ma het laat weet sy trou weer. Dink nie ek gaan hierdie keer genooi word nie, want dis haar woorde ‘dit lyk darem so sleg as jy alleen rondhang’...” sy maak haar ma se stem perfek na en begin amper lag. “Om alles te kroon is dit vanaand die straatbraai en Herman en sy nuwe fling gaan ook daar wees.” Sy stuur die nota en kyk na die skandeerder wat steeds nie werk nie.

Dit raak warm in die stilstaande motor en sy draai die oorkantste ruit effens af. Venicia druk haar vinger op die rooi liggie langs die skerm, hou dit ‘n oomblik daar. Geen reaksie. ‘n Harde klank laat haar verskrik rondkyk. Dis net ‘n motorfiets.

Sy lig weer haar foon na haar mond. “Hoekom moes ek aangebied het om Tannie Pat te help met die reëlings? Ek is simpel. Seker omdat ek nie geweet het die poephol gaan, nadat hy my soos ‘n warm patat gelos het, wragtig in my kompleks intrek nie. Daar is letterlik honderde komplekse net in die area.” Haar asem jaag soos wat sy haarself opwerk en haar keel begin brand.

“Sit jou donnerse foon neer.” ‘n Gedempte stem klink opeens langs haar op en sy kyk rond of iemand met haar praat.

Al wat sy sien is die motorfiets waarvan die bestuurder se gesig versper is waar hy by die sperboom langsaan geparkeer staan. Sy skud haar kop en gaan met haar stemnota aan.

‘n Harde slag teen haar motor se dak laat haar so groot skrik dat die foon uit haar hand glip en langs die sitplek inval. Sy kyk met groot oë na die skaduwee wat opeens langs haar linkerkantse deur staan. Die motorfietsbestuur, wie se helm nog op is, klop weer teen haar motor.

“Ek praat met jou. Sit neer die deksels foon wanneer jy by die boom gate staan. Dit is mense soos jy wat die verkeer ophou.” Sy stem is hard en ongeduldig.

Sy kyk outomaties rond. Hoekom sal hy met haar so lelik praat? “Ekskuus? Ek wag...”

“Ek geen nie om nie. Jy hou mens op. Selfone is ‘n euwel en mense raak dom as gevolg daarvan.” Hy tree terug sonder om vir ‘n reaksie te wag.

“Jy kan net by die anderkant deurgaan. Ek hou jou nie op nie.” Sy voel sy wil haarself verdedig, maar haar stem is bewerig.

Hy tree vinnig vorentoe. “Kom net uit die pad uit!” Dan spring hy op sy motorfiets en trek met ‘n brullende enjin weg.

Sy gaap hom agterna soos die motorfiets met ‘n spoed in die kompleks injaag. Dit was nou werklik onnodig. Asof dit die laaste strooi is wat die kameel se rug breek, bars sy in trane uit.

Die sekuriteitswag kyk haar met simpatie aan. “Ek maak sommer oop. Stuur net weer vir die oom dat jou gesig nie werk nie.”

Deur die trane probeer sy glimlag. “Dankie... ek sal.” Sy trek rukkerig weg en ry in ‘n wasige stortvloed na haar eenheid.

 

Venicia kyk ongemaklik rond. Alles is gereed en vertoon goed. Tannie Pat gee bevele oor waar die braaiers geplaas moet word. As die opsigter en voorsitter van die beheerliggaam is sy in beheer op meer as een manier. Tannie Pat maak dit haar daaglikse taak om die doen en late van ander te weet.

Sy drentel nader aan die tafels, vee met haar hand oor die lap wat ‘n kreukel in het.

“Jy lyk baie mooi, Skattebol.” Sy glimlag. Daar is ‘n gesegde – as jy op jou ergste voel, lyk jou beste. “Jy gaan die manne se koppe laat draai.”

Sy skud laggend haar kop en verander vinnig die onderwerp. Eintlik wil sy nie vra nie, maar dit vreet aan haar. “Weet Tannie of daar iemand in die kompleks bly wat nou ‘n motorfiets ry?” Haar stem klink verpiep.

“O, ja. Mario. So ‘n gawe jong man.” Sy keer haarself net betyds om onvroulik te snork en luister hoe die ouer vrou voortgaan. “Het my nou die dag gehelp om potte te skuif. Sterk hoor. Jy moet die spiere op daardie man se arms sien.” Tannie Pat loer vinnig na haar. “Baie aantreklik. Lank, met donker hare. Hoekom vra jy?”

Sy trek haar skouers op en kyk belangeloos na die mense wat nou in groot getalle by hulle aansluit. “Ek het net die motorfiets by die hek gesien en daaroor gewonder.”

Die tannie is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie. Sy vernou haar oë. “Dit klink asof daar meer hier agter is. As jy belangstel, sê net, jy weet tannie soek al lank iemand vir jou, maar jy skop so hard daarteen.”

Sy skud haar kop so wild dat haar hare voor haar gesig inwaai.

“Onthou my aanbod om daardie vent ook te laat uitskop.” Tannie Pat het geen tyd vir Herman nie. Sy slaan haar hande opgewonde saam. “Hier is hy nou.” ‘n Oomblik lank gaan staan haar hart amper, maar dan sien sy hoe Tannie Pat na ‘n donkerkop man wat reguit op hulle afstap, toe loop. “Mario. Ek is bly jy kon by ons aansluit. Hoop jy het iets om te drink, dit kan nogal gesellig raak.” Hy hou ‘n klein koelboks in die lug en glimlag skrams.

Venicia verpes dit om te erken, maar hy is uitsonderlik aantreklik. Ongelukkig weet sy reeds dit strek slegs vel diep.

“Mario, hierdie is Venicia. Sy is my steunpilaar met al hierdie reëlings. Weet nie wat ek sonder haar sal doen nie.” Sy maak die pap bietjie dik aan en Venicia knik flou.

“Venicia... interessante naam.” Hy rol haar naam oor sy tong en dit laat haar hart vreemd klop. Sy oë gaan vinnig oor haar. “Ons het so vlugtig by die hek ontmoet. Hopelik is jou organisering beter as jou bestuursvaardighede.”

Sy klap haar tong dat dit weergalm. “Luister hier, jy weet nie waarvan jy praat nie.” Hy vou sy arms en kyk haar vermakerig aan. “En weet ook niks van my...” Haar woorde word onderbreek.

“Hartjie, ek is so jammer oor die situasie by die hek. Bennie het my daarvan ingelig.” Die kort, ronde man, oom Renier, leun nader. “Hierdie biometriese sisteem gee my grys hare.”

Sy gee eers vir Mario ‘n kyk, voordat sy direk met Oom Renier praat. “Dit is oukei, Oom.”

Hy skud sy kop dat die voue om sy nek beweeg. “Nee, nee, dit is nie. Jy sukkel nou al hoe lank om by die hek in te kom en dan word jy ‘n slagoffer van iemand anders se padwoede en dit was buite jou beheer.” 

Sy sien hoe Mario ongemaklik rondtrap. Oom Renier gesels nog ‘n oomblik lank voordat hy aanbeweeg. ‘n Ongemaklike stilte daal tussen haar en die aantreklike vreemdeling. Hy maak keelskoon.

“Ek is jammer. My slegte dag het oorgespoel in swak gedrag.” Hy vryf oor sy oë. “Ek voel soos ‘n aap. As daar enige iets is wat ek kan doen om dit beter te maak, sê asseblief.”

Haar oë vang Herman en sy jong pop wat met verliefde oë na mekaar staar. “Dis fine.  Daar is nie nou iets wat jy kan doen om daarvoor op te maak nie. Hier kom ‘n groter steunis.” Haar woorde vervaag. Uit die hoek van haar oog kan sy sien hoe hy frons en bly staan.

“Hallo Venicia. Ek het nie gedink ons sal jou hier sien nie.” Sy skrik. Herman kyk haar spottend aan. Sy voel hoe haar moed tot in haar skoene sak.

Die jong vrou wat aan sy arm hang giggel. “En dit nog alleen ook. Siestog.”

Sy voel hoe haar wange rooi raak. Sy draai om weg te stap, maar let op dat Mario steeds daar staan.

Hy bekyk die situasie ‘n oomblik lank. Sy oë gaan van Herman na haar. Dan glimlag hy geamuseerd. Hy leun nader aan haar en praat sodat net sy kan hoor. “Ek weet presies hoe ek kan opmaak vir my gedrag.”

Sy frons, maar voordat sy tot verhaal kan kom, trek hy haar nader. Sy mond gaan sag op hare neer. ‘n Oomblik staan sy verstar, maar dan vlam ‘n passie tussen hulle op. Hy soen haar dat haar tone omkrul.

Toe haar oë weer oopgaan, sien sy hoe Herman wegstorm. Sy kyk verslae, maar met ‘n effense glimlag na Mario, wat haar hand in syne neem.

“Sal ons hom môre weer op sy plek sit?”

Vir die eerste keer in ‘n lang tyd lag sy tot in haar hart.

 
 
 

1 Comment

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating
Mariette Wenhold
Oct 06

Pragtige storie. Ek kon dit voor my sien gebeur.

Like
bottom of page